Wanneer jou wêreld in mekaar stort, kan mens nie dadelik die pad vorentoe sien nie.
Donker wolke van vrees, wanhoop, frustrasie en verwarring laat die lig van hoop verdwyn.
Dit is ‘n eensame pad.
Die soektog na normaal…
Dit voel soos gister wat hy na my gekyk het en gevra het: “Hoekom is ek anders?”
Ek weet nie.
Ek wens ek het geweet.
Ek wens ook ek vind nooit uit nie.
Ek wens…
Ek wens my kind kon lees soos ander kinders.
Ek wens my kind kon skryf soos ander kinders.
Ek wens hy was normaal.
Sy grootste wens was net soos myne. Hy wou net normaal wees. Hy wou ook net in graad een woordjies leer en sinnetjies lees. Is dit werklik te veel gevra?
My kind is disleksies. ‘n Lewenslange vonnis vir hom.
Volgens die HAT is normaal “nie buitengewoon nie, gewoon, tipies, soos verwag word. Geestelik en Liggaamlik gesond. (HAT, 2012) .
So begin ons soeke na die nuwe normaal nadat die mat onder ons voete uitgeruk is.
Ma se verhaal:
Ek was nog nooit voorheen blootgestel aan disleksie nie. Ons was nog altyd ‘n “normale gesin”. ‘n Pa en Ma met drie kinders. Oudste is ‘n dogter, en dan tweeling seuns.
Werkende ouers met die kinders in die kleuterskool.
Die kleuterskool juffrou het vir my gesê hy sukkel om ‘n gesig te teken. Sy is bietjie bekommerd oor sy lae spiertonus. Soos ‘n goeie ma het hy arbeidsterapie begin kry. Die arbeidsterapeut het bietjie gefrons. Daarna het ons hom na ‘n vroutjie gestuur wat help met breinstimulasie sodat die linker en regter brein met mekaar kan praat. Daar was waarskuwingsligte, maar ek het werklik gedink dit kan nie so erg wees nie. Hy is baie lief om met sy karretjies te speel en dis okay.
Nou is ons reg vir graad een!
Sussie is nou graad drie, en die twee boeties is trotse graad een parrabene!
Die seuns was in verskillende klasse geplaas. Met die eerste oueraand moes ek twee klasse se Juffrouens gaan sien. Boetie se juffrou – geen probleem, dit was vinnig.
Toe is dit die ander juffrou. O genade. Ek is eenkant toe geroep en die juffrou het vir my gesê my seun se IK is nul. Alles wat sy verduidelik gaan bo sy kop verby. Hy kan niks inneem nie. Kinders soos hy word gewoonlik drug addicts, eindig op om kriminele te word. Hy moet uit die skool uitskuif. Sy kan my probeer help om hom in ‘n skool vir dowe kinders te kry, dan kry hy darem een-tot-een aandag. Miskien moet ek maar eerder home-school met hom. Daar is geen hoop vir hom.
My wêreld het uitmekaar geval.
Die skool het IK toetse gedoen, telling was normaal. Ek is ingelig dat dit is as gevolg van terapie en nie sy werklike vermoë nie.
Die normale skool het my kind uitgeskop. Ons het tot die einde van die eerste kwartaal gehad om plan te maak.
Jammer mevrou, maar dis hoe dit is.
I became what I am today at the age of twelve, on a fridged overcast day in the winter of 1975… That was a long time ago, but it is wrong what they say about the past…Looking back now, I realize I have been peeking into that deserted alley for the last twenty-six years.
-Khaled Hosseini, The Kite Runner
In daardie oomlik was daar werklik net wanhoop.
Geen hoop, maar sonder hoop is daar geen plan.
Sonder hoop kan mens nie jou kop optel en aanhou baklei vir jou gesin nie.
Hoop is egter ‘n keuse en word ‘n strategie in ons stryd teen die “normaal” wat die wêreld van ons verwag.
Hoop het ‘n tool in my toolbox geword.
0 Comments