Aansigte: Praktiese Ontdekking

Sensoriese Uitdagings
Geskryf deur Izelle van den Bergh
Izelle se passie vir ouers en hul kinders dryf haar om praktiese kurrikulums te ontwikkel, kreatiewe platvorms te skep en verskilmakers bymekaar te bring.

Of jy nou besig is met Wiskunde of Sosiale Wetenskap, aansigte is deel van die kurrikulum vanaf graad 1.

Ongeag of jy tuisskool of klasgee, praktiese ontdekking van enige konsep het groter, beter, beste waarde.

 

Daar is verskillende aansigte:

Vooraansig – wat sien ek as ek voor die voorwerp staan.

Syaansig – wat sou ek sien as ek die voorwerp van die kant af sou sien.

Bo-aansig – wat sien ek as ek die voorwerp van bo-af sien.

 

Hier is 2 praktiese aktiwiteite om aansigte te ontdek:

Aansigontdekking:

Voorbereiding:

Begin eers om ‘n paar dinge op ‘n tafel te pak, sonder dat kinders sien wat jy doen…

Pak byvoorbeeld ‘n paar groot voorwerpe in ‘n vierkant (soos plastiekbakke in verskillende groottes) op die tafel.

Plaas ‘n klein voorwerp (soos ‘n muntstuk) in die middel, wat nie van een van die kante gesien kan word nie.

Praktiese aktiwiteit:

Laat die kinders eers van hul gewone staan hoogte voor elke kant staan en sê wat hulle sien. (Dit is belangrik dat hulle moet kan beskryf wat hulle sien, omdat hulle woordeskat ontwikkel.) So hulle gaan dalk 1 bak sien wat agter ‘n ander een uitsteek.

  • Hulle kan elke aansig sommer op ‘n papier teken.
  • Hulle het die vooraansig van elke kant ontdek, omdat hulle voor die kant van die tafel gestaan het.
  • Jy kan vra wat hulle alles op die tafel gesien het.

Laat die kinders nou op die tafel staan. (wees veiligheidsbewus)

(As jy met ‘n groep kinders werk, is dit raadsaam om te sê dat as jy iets sien wat jy nog nie gesien het nie, moet jy dit nie uitroep of sê nie – so kry elke kind die geleentheid om die a-ha oomblik te beleef.)

Die a-ha oomblik om die voorwerp in die middel te sien, wat hulle nie uit die ander hoekpunte kon sien nie, maak aansigte ‘n realiteit.

Kinders kan nou die bo-aansig ook teken.

Jy kan die volgende dinktrappie-vrae vra:

  1. Hoekom kon julle nie die muntstuk sien toe julle op die grond gestaan het nie?
  2. Wat moes julle doen om die muntstuk raak te kon sien?
  3. Watter woorde het ons gebruik om planaansigte te beskryf?

Aansig-toepassing:

Voorbereiding:

Jy benodig ‘n paar lego-blokkies of telblokkies.

Pak die blokkies eers in ‘n eenvoudige vorm: een groot blokkie en ‘n kleiner bo op een punt.

Boublokkies

Toepassing:

Laat die kinders op 1 plek sit en beskryf wat hulle sien.
Daarna kan hulle die vooraansig, sy-aansig en bo-aansig teken.

Geniet die aansig-prakties en laat weet gerus in die kommentaar hoe die kinders dit ervaar het.

Jy kan dalk in die volgende belangstel…

Disleksie – Die soektog na normaal

Disleksie – Die soektog na normaal

Wanneer jou wêreld in mekaar stort, kan mens nie dadelik die pad voorentoe sien nie. Sy grootste wens was net soos myne.  Hy nou net normaal wees. 

0 Comments

Submit a Comment